Talent in oorvloed.

Talent in oorvloed


Dasseland loop oor van leerders wat verskeie talente het. Die hartseer ding is egter daar is nie altyd 'n platform is om dit ten toon te stel nie. Wie weet ? Die volgende Langenhoven kom maklik weer uit Hoërskool Langenhoven. Dis waarom ek met my eerste avontuur die DIGTERS in ons midde se werk met julle deel. Ek stel die volgende persone se skryfwerk aan julle bekend - Kayley Steyn(Gr.9) , Vanay Francis(Gr.10) , Fayden Sefoor(Gr.11) asook Jaco van der Bank(Gr.12). Vir elkeen van hierdie persone is daar n paar vrae gevra en hulle antwoorde word hieronder saamgevat.

1. Wat is die inspirasie agter jou gedig?

Kayley: Ek het dit geskryf gedurende die grendeltydperk. Ons kon nie met baie mense in kontak wees nie. Hierdie gedig het ek toe geskryf om saam te vat hoe baie ek mense in my lewe gemis het in daardie tyd.

Vanay: My gedig handel oor my oorlede peetma wat 4 jaar gelede afgesterf het. Ek het die gedig aan haar opgedra. Ek het basies my gevoelens neergepen.

Fayden: 'n Insident by die skool het PYN geskep. Ek hou daarvan om myself te klassifiseer as 'n geleentheidsskrywer en hierdie gebeure het my gedryf tot die punt wat ek gevoel het dat ek iets moet skryf. Soms besef mense nie hoe 'n groot impak hulle dade op ander het nie en deur hierdie gedig wou ek die boodskap bring.

Jaco: My inspirasie vir die gedig was my liefde vir sport , spesifiek hoogspring. Die deel van my menswees het ook 'n groot rol gespeel deurdat ek altyd mense wil inspireer en dit is 'n inspirerende gedig. Ek het dit ook grootliks baseer op geloof omdat geloof 'n groot rol in my lewe speel.



2. Wie is jou gunsteling digter?

Kayley: Karmen Wiid. Sy bring net daai outydse liefde terug in een gedig en dit laat jou voel of jy daai oomblik self weer beleef.

Vanay: Ek het nie regtig 'n gunsteling digter nie.

Fayden: Ek hou van DJ Opperman se gedigte. Sy manier hoe hy dinge beskryf is net baie interessant vir my.

Jaco: Jaco Jacobs is my gunsteling digter. Ek hou van sy skryfstyl en die feit dat hy meer daarop fokus om vir jonger mense te skryf. Hy is ook 'n baie goeie ambassadeur vir die Afrikaanse taal.



3. Wie is jou rolmodel en waarom?

Kayley: My ouma, want sy maak altyd seker dat ek die beste in my vermoë kry al kan sy dit nie altyd gee nie

Vanay: My rolmodel is Zendaya Coleman. Sy het net so baie rou talent. Sy laat nie ander mense toe om vir haar te besluit nie. Sy behaal baie sukses op haar manier, ongeag wat ander mense van haar mag dink. Die belangrikste is dat sy altyd nederig is en haar menswees is waarna ek wil strewe.

Fayden: Ek het verskeie persone wat volgens my rolmodelle in my lewe is. Soos my ouers wat my altyd wys hoe om dankbaar te wees vir wat jy het. Selfs iemand soos wyle oud-president , Nelson Mandela, se goeie leierskapvaardighede is iets waarna ek as persoon opkyk.

Jaco: My broer is my rolmodel. Hy het baie struikelblokke deur die lewe ervaar maar het homself van onder af weer opgebou. Sy ondersteuning en inspirasie beteken baie vir my.



Uit hierdie onderhoude het hierdie persone se nederigheid die meeste vir my uitgestaan. Met hierdie mentaliteit voorspel ek 'n blink toekoms vir elkeen van hulle. Die persone is slegs n druppel in die emmer van talent wat ons hier by Dasseland het. Dis tyd om uit jou kas te klim en trots te wees op wat JY het . Doen dit vir JOU en niemand anders nie. 

~ Deur Fayden Sefoor en Zuraida Prins ~



Comments

Popular posts from this blog

RIG JOU OË OP JESUS

Matriek-niek